1. Proposisie #1: Ons Weet Dat Daar Minstens Drie Hemele Is. Dikwels hoor mens mense sê
dat daar (net) DRIE HEMELE is, en dat God in die hoogste daarvan, naamlik die DERDE HEMEL, woon. Sulke mense baseer hulle stelling gewoonlik
op die getuienis van Paulus, soos volg:
"Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar
gelede— of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek
nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man — of dit in die
liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit — dat hy weggeruk is in die Paradys en
onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie." [2Kor.12:2-4].
Die miljoen-roebel vraag is nou: Waar staan dit in hierdie teks dat God
in die DERDE HEMEL woon? Kom mense nie
maar net weer oudergewoonte tot allerhande onskriftuurlike gevolgtrekkings nie? Die enigste ding wat ons tot dusver met sekerheid
kan sê is dat die PARADYS in die DERDE HEMEL geleë is [2 Kor.12:4].
Vanselfsprekend sal God o.a. ook in die
PARADYS aktief wees aangesien Hy oor alle Hemele, ongeag hoeveel daar van hulle is, regeer; maar is dit noodwendig so dat Hy
in Sy Persoon beperk is tot die DERDE HEMEL of tot die PARADYS?
Ons weet ook wel dat die eerste Christen-martelaar, Stefanus, Jesus sien
staan het aan die ‘regterhand van God’ ten tye van sy moord, wat daarop dui dat
God waarskynlik Sy Troon in die DERDE HEMEL vestig:
"Maar
hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die
heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele
geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan." [Handelinge7:55-56].
2. Proposisie #2: God het die Hemele Sowel as die Hoogste Hemele Gemaak.
Die Bybel leer dat God die Hemele
(meervoud!) en die Hoogste Hemel
gemaak het:
"U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy
leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat
daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle
voor U neer ... In die voortyd het U die aarde gegrondves,
en die hemele is die werk van u hande." [Nehemia9:6; Psalm102:25/26].
Met ander woorde, lank voordat die Hemele
(meervoud) geskape is of bestaan het, het (die oneindige) God mos alreeds
bestaan, want hier stel die Bybel dit duidelik dat God die Hoogste Hemel gemaak het. Indien
die DERDE HEMEL dus wel die Hoogste Hemel
is (wat nie noodwendig Bybels is nie) het God dit in elk geval in die eerste
plek self gemaak.
Dikwels vergeet mense dat God self nooit geskape was nie … Hy
IS net eenvoudig van Ewigheid tot Ewigheid. Sy ‘ouderdom’ kan nie
met ‘n horlosie bepaal word of aan ‘n kalender gemeet word nie. Hy IS
die groot ‘EK IS’. Toe Moses by die
braambos vir God vra wie Hy nou
eintlik is, het God geantwoord:
"En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders
van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur." [Exodus3:14].
Die Bybelse God (‘YHWH’) staan onafhanlik van en buite die Gregoriaanse
kalender wat ons soms agter ons kombuisdeur hang, of in ons dagboek en/of
selfoon ‘app’ ronddra. Die HEMELE, aan die ander kant, was geskape, tydgebonde en kalendergebonde dinge; daarteenoor ‘was’
God nooit geskape nie … Hy IS, gister, vandag en tot alle ewigheid dieselfde.
Maar, as God dan nie geskape was nie, en die
HEMELE (insluitend die DERDE HEMEL waarna Paulus verwys) geskape dinge is, waar
het God dan gewoon voordat die DERDE HEMEL gemaak is (dit wil sê indien die
DERDE HEMEL dan nou werklik die hoogste hemel is)?
Kan u dus sien dat indien die DERDE HEMEL bv. (arguments-onthalwe)
werklik die HOOGSTE HEMEL is
(alhoewel dit nie ‘n uitgemaakte saak is nie) en God die DERDE HEMEL in die een
of ander ‘begin-stadium’ geskep het, God dan vanselfsprekend nie (op daardie stadium)
noodwendig in die DERDE HEMEL kon gewoon het nie? God 'bestaan' onafhanklik van Sy skepping en dus voordat die DERDE HEMEL
bestaan het.
3. Proposisie #3: Die HEMELE kan verslyt (vergaan). Dit is met ander woorde belangrik dat ons besef dat God nie noodwendig
RUIMTE of SPASIE (soos ons dit ken), of selfs ‘n HEELAL of HEMELE, nodig het om
in te woon of om Sy oorlewing mee te verseker soos wat die valse kultus van die
primitiewe ‘panteïsme’ bv. leer nie.
Al sou daar dus gladnie soiets soos ‘n HEELAL, ‘n KOSMOS of HEMELE
bestaan het nie, sou God nog steeds met mag en majesteit kon verklaar: “Ek IS!”
Die HEELAL, die KOSMOS en die HEMELE is geskape dinge, terwyl God nooit geskape
was nie; Hy IS wat Hy IS … punt. Die
Bybel leer ook dat die HEMELE, inteendeel, nie EWIG is nie, maar dat dit alles kan verslyt en inderdaad op hierdie oomblik besig is om te verderwe:
"In die voortyd het U die aarde gegrondves, en
die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle
almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en
hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen
einde nie ... Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die
hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die
aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand." [Psalm102:25/26 - 27/28; 2Petrus3:10].
Wat leer ons uit hierdie gedeelte?
- Dat die HEMELE (let wel die meervoud!) die
werk van God se hande is (m.a.w. God ‘het bestaan’ voordat die HEMELE bestaan
het).
- Dat die HEMELE sal vergaan, almal van hulle
sal soos ‘n kleed verslyt. HEMELE kom en gaan.
- Die HEMELE sal met ‘n gedruis verbygaan.
- Daar bestaan minstens DRIE HEMELE.
- Die DERDE HEMEL is waarskynlik waar die PARADYS asook waar God se TROON is.
- God bly dieselfde … Sy jare het geen einde nie. Hy sit EWIG buite die ruimte-tyd dimensie wat ons die HEELAL noem. Selfs al sou daar nie soiets soos ‘n HEELAL, ‘n KOSMOS of HEMELE bestaan het nie, sou God nog nog steeds bestaan het.
Wanneer ons dus leer dat daar net DRIE
HEMELE is en dat die DERDE HEMEL die HOOGSTE HEMEL is (en dat God beperk is tot
die DERDE HEMEL) weerspreek ons die Bybel, aangesien daar geen bewyse bestaan
dat die DERDE HEMEL noodwendig die HOOGSTE HEMEL in God se skepping is
nie. Al wat ons weet is dat dit die plek
is waar die PARADYS, asook God se Troon, geleë is en dat Paulus weggeruk is tot
in die DERDE HEMEL en onuitspreeklike wonders daar gesien het.
Diegene bekend met die Nuwe Testamentiese
Evangelies sal onthou dat daar ‘n tyd was toe Jesus vir die Fariseërs gesê het:
“Voordat Abraham was, IS EK!” Hierdie stelling bewys terloops ook onomwonde
dat Jesus werklik GOD (die Seun) is, aangesien Hy hier op dieselfde
supernatuurlike eienskap van ‘EK IS’ as wat die God van Moses (‘YHWH’) aanspraak
gemaak het, aanspraak maak:
"Jesus sê
vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek." [Johannes8:58].
N.B. Vir alle praktiese doeleindes kon Jesus netsowel ook
nog gesê het: “Voordat die HEMELE was, IS
EK!”
4. Proposisie #4: Die HOOGSTE HEMELE kan God nie bevat nie. In verband met God se verhewe en finale ‘woonplek’ leer die Bybel
duidelik dat selfs die HOOGSTE HEMELE God
nie kan bevat nie, of daardie ‘hoogste hemel’ nou die DERDE HEMEL of die
MILJOENSTE HEMEL is of nie. Tensy God
Homself assulks opsetlik kleiner in die publiek manifesteer soos dit dikwels in die Ou Testament gebeur het, wat ons ‘n ‘teofanie’
(‘Theophany’) noem, kan God tegnies-gesproke eintlik in GEEN HEMEL ingeforseer word nie; maak nie saak hoe groot enige HEMEL is nie ... God bly groter. Satiries gesproke: Soos die seuntjie vir sy boetie gewaarsku het: "Jy dink God is groot? God is groter!"
"Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste
hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het ... Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die
hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan
bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek? Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die
hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou
het!" [1Konings8:27; 2Kronieke2:6; 6:18].
5. Proposisie #5: Niemand Weet Hoeveel HEMELE Daar Is Nie. Die feite is dus soos volg:
- Daar bestaan geen Skriftuurlike bewys dat daar net DRIE HEMELE in God se skepping bestaan nie. Paulus (trouens, ons vermoed dit was hy) was wel weggeruk tot in die DERDE HEMEL (PARADYS) en het wel onuitspreeklike dinge gesien waarvoor hy nie oor die woordeskat of mandaat beskik het om te dit hoegenaamd aan ons te verduidelik nie, maar dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat dit noodwendig die HOOGSTE MOONTLIKE HEMEL is of selfs dat dit GOD se FINALE WOONPLEK is nie.
- God het die HEMELE (meervoud) gemaak, insluitend die DERDE HEMEL (PARADYS) en enige ander HEMELE waarvan ons moontlik nie weet nie. God se TROON (die setel van Sy regerende gesag) is waarskynlik in die DERDE HEMEL gevestig.
- God is nie geskape nie, maar IS: Hy bestaan buite TYD en die KALENDER. Hy is die groot ‘EK IS!’ en bestaan onafhanklik van en buite die TYD-RUIMTE dimensie wat ons as die Heelal ken.
- Die geskape HEMELE is tyd- en ruimte gebonde en kan verslyt en ‘verbygaan’, maar God se TROON (figuurlik: Sy regerende Gesag) is EWIG.
- God BESTAAN dus voordat die HEMELE bestaan het.
- Arguments-onthalwe kan selfs die HOOGSTE HEMEL God se ‘Persoon’ nie bevat nie, of dit nou die DERDE HEMEL of die BILJOENSTE HEMEL is aldan nie, tensy d.m.v. ‘n ‘teofanie’ (‘Theophany’) m.a.w. wanneer God opsetlik kleiner manifesteer sodat Hy pas in kleiner ‘ruimtes’ soos die DERDE HEMEL of selfs binne in die hart van die gelowige.
- In die finale analise weet niemand hoeveel HEMELE daar werklik is nie, en die Bybel spesifiseer ook gladnie hoeveel HEMELE daar werklik bestaan nie, maar net dat daar minstens DRIE HEMELE bestaan en dat die HOOGSTE HEMEL (watter een dit ookal mag wees) God nie kan bevat nie. Selfs ongelowige (en gelowige) natuurwetenskaplikes ('kwantum fisici') begin al spekuleer oor die moontlike bestaan van 'veelvuldige heelalle' ('multiverses').
- Enigeen wat dus probeer bereken hoeveel HEMELE daar (m.a.w. om 'n spefieke getal daaraan te koppel) in God se skepping is en ander so will leer is waarskynlik besig om sulkes te mislei.
6. Proposisie #6: God bestaan dus onafhanklik van Sy Skepping. Ons sien dus dat selfs die HOOGSTE HEMELE God nie kan bevat nie en dat
Hy IS (d.i. BESTAAN) lank voordat die HEMELE ooit geskape is. Die groot gevaar onder
Christene is die gewoonte wat hulle het om God gedurig te wil ‘trivialiseer’ (verklein)
met die doel om Hom meer 'hanteerbaar' (verstaanbaar) vir hulle eie beperkte
verstandjies te maak.
‘n Goeie voorbeeld
van die trivialisering (‘verkleining’) van ‘n ‘god’ is wanneer die Oosterse
afgode-dienaar sy ‘god’ ('n mensgemaakte beeldjie) op die rakkie neersit om hom te aanbid. Sy ‘god’ is so ‘verbruikers-hanteerbaar’ (‘user-manageable’)
dat hy (d.w.s. die 'godjie' op die rakkie) nie eers homself kan afstof nie, wat nog ander help!
Ons vind sulke kinderagtige en futiele aanbidding van ‘n afgods-beeldjie
vreemd en verfoeilik; maar sommige Christene doen soms dieselfde: Wanneer hulle
God nie verstaan nie, probeer hulle Hom meer verstaanbaar en hanteerbaar maak
deur Hom tot ‘n DERDE HEMEL te probeer beperk, terwyl die ewige en oneindige God
nooit in so beperkte ruimtetjie ingedruk sal kan word nie. Nee,
die Bybelse feit en leer is dat selfs die HOOGSTE HEMELE God nie kan bevat nie! Ten beste
kan ons weet dat God wel Sy administratiewe hoofkantoor en setel van Sy Troon
onder die res van Sy skepping en geskape wesens waarskynlik (maar nie noodwendig) in die DERDE HEMEL waar die
PARADYS is, maak.
Toevallig waarsku Dr. Donald W. McCullough, skrywer van die boek, ’The Trivilization of God: The Dangerous
Illusion of a Manageable Deity’, juis teen die moderne gewoonte by
Christene en filosowe om God gedurig te wil trivialiseer in hulle soektog na ‘n
intellektueel ‘meer ‘beheerbare' (‘more manageable’) God. Omdat Christene nie die misterie van ‘n oneindige (‘infinite’) God kan
visualiseer of intellektueel begryp nie, probeer hulle dan dikwels om God
‘meer verstaanbaar’ te maak deur Hom tot kleiner, intellektueel meer
hanteerbare hokkies (soos ‘n DERDE HEMEL) te beperk.
Maar, selfs al sou God se Troon in die DERDE HEMEL (PARADYS) wees (wat heeltemal
Skriftuurlik is) is dit steeds nie ‘n uitgemaakte saak dat die plek van Sy Ewige
Troon noodwendig die HOOGSTE HEMEL van Sy Skepping is nie. Die Bybel leer ons:
"Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die
hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders ... U troon, o God, is vir ewig en altyd; die
septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer ... God regeer oor die nasies; God sit op sy
heilige troon ... So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my
voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my
rusplek sal wees?" [Psalm11:4; 45:6/7; 47:8/9; Jesaja66:1].
Ons kan wel weet dat die Troon
van God uniek en EWIG van aard is, aangesien die woord troon nie noodwendig na die fisiese koninklike ‘stoel’ verwys
waarop God sit nie, maar metafóries na God se Statuur en Koninklike Gesag (om te regeer). God regeer van ewigheid tot
ewigheid en is Sy Koninklike Gesag (‘Troon’) is dus ook ewig. Ten beste kan ons verder weet dat, in terme
van Jesaja 66:1 hierbo, die hemel die troon van God is en die aarde die
voetbank van Sy voete. Hy het dit
spesifiek genoem sodat ons mensekinders kan weet dat, indien die hemel slegs Sy Troon verteenwoordig, daar baie meer
omtrent God is as wat hierdie enorme en majestueuse Heelal laat blyk (ons ken ten dele).
7. Proposisie #7. Die werklike Grootheid van God was nog nooit vertel nie. Nietemin staan trone mos vanselfsprekend nie alleen daar in die veld
rond nie:
- ‘n Troon is tog binne-in ‘n
Paleis;
- Paleise is binne in ‘n Land;
- Lande is binne in ‘n Koninkryk en
- koninkryke is gewoonlik binne-in ‘n groter, ruimer Kontinent.
Stel uself voor: Indien God se Troon dus in die DERDE HEMEL sou
wees, hoe (metafories-gesproke) sou die PALEIS waarin so Troon staan daar
uitsien; en die LAND waarin so ‘n Paleis staan, en die KONINKRYK waarin so Land
is, en die KONTINENT waarin so ‘n LAND ditself sou bevind? Al ooit gehoor van ‘thinking out of the box’? Nietemin, enige mens wat hierdie
brein-toertjie sou probeer doen sou homself waarskynlik binne minute uitdoof van uitputting.
Sommige
wetenskaplikes, soos bv. (oorlede) Stephen Hawking dat daar. wiskundig demonstreerbaar. minstens ELF HEELALLE bestaan. Selfs hier kan ons sien dat die hele idee van baie heelalle (en baie
HEMELE) selfs vanuit ‘n gewone wetenskaplike oogpunt nie noodwendig ‘n
vergesogte idee is nie. Nie alles wat
die ateïs-gesinde wetenskaplikes ons vertel is ook noodwendig altyd verkeerd of
ongeldig nie … selfs ‘n horlosie wat staan is ten minste tweekeer per dag
absoluut korrek (en op daardie twee oomblikke waarskynlik meer korrek en presies as ‘n
atoom-horlosie).
God is immers ONEINDIG (‘infinite’) en mens sou kon verwag dat God nie
in ‘n metafisiese ruimtetjie beperk tot ‘drie hemele’ sou wil woon nie. Trouens, net die feit dat God ONEINDIG is
beteken alreeds dat daar moontlik ‘n ONEINDIGE AANTAL HEMELE bestaan waarvan
ons die einde nooit van ons vlak af sal kan begryp of verstaan nie ... of kan die God wat wiskunde gepatenteer het soos 'n volstruis net tot 3 tel?
Daarbenewens moet ons ook probeer begryp dat God nie binne-in Sy
Skepping (lees HEMELE) vasgevang is soos ‘n huurder van sy eie woonstel in ‘n
woonstelblok nie, asof Hy maar net die Opsigter van die Heelal is nie. God is nie maar net die Opsigter van die
Heelal nie; Hy het nie die HEMELE nodig vir die versekering van Sy eie
ruimtelike voortbestaan nie; trouens het die HEMELE God nodig vir hul
ruimtelike voortbestaan, presies net andersom! Mense (geskape wesens) neem bv. ruimte (‘spasie’) op; maar God kan,
indien Hy dit so sou verkies, Homself terugtrek tot die grootte van ‘n atoom,
of selfs kleiner waar Hy geen ruimte (soos ons dit ken) opneem nie.
Argumentshalwe sou Hy Homself dus kon terugtrek tot by ‘n (metafisiese, minuskule)
wiskundige punt waar Hy bv. absoluut geen
spasie opneem nie, en steeds ewe suksesvol (indien nie ‘meer’ suksesvol!) die
Heelal met mag, gesag en invloed kon regeer. Aan die anderkant kon God Homself, indien Hy
sou wil, eerder vergroot waar Hy triljoene ligjare in deursnee is, en steeds (paradoksaal vir sekere mense) geen ruimte opneem nie. God het nie SPASIE, RUIMTE, die KOSMOS, die
Heelal of die HEMELE (soos ons dit verstaan) nodig nie … dit is die Heelal, die Kosmos en die HEMELE wat
Hom nodig het, en voordat ons dit nie
verstaan nie, sal ons nie eers begin om God se Majesteit, Grootsheid en wonderlike
Woonplek te verstaan nie.
Dit is waarom
God, selfs al kon Hy tegnies-gesproke nie deur die HOOGSTE HEMELE bevat word
nie, Homself steeds met Sy unieke ‘metafisiese’ eienskappe in die DERDE HEMEL
kan vestig vanwaar Hy met gesag regeer indien Hy dit so sou verkies.
8. Proposie #8: Daar is 'n Nog Uitnemender Weg. God is ONEINDIG (‘Infinite’), en lank nadat die verwagte Wederkoms plaasgevind
het; of lank nadat die Bruilof van die Lam plaasgevind het, en lank nadat die
Groot Wit Troon Oordeel plaasgevind het, en lank nadat die gelowiges reeds
‘lankal’ by God is, sal sulke gelowiges waarskynlik nog steeds gereeld nuwe
dinge omtrent God ontdek. Die Bybel leer ons dat selfs die Heilige Gees nog
steeds gereeld die misterieuse dieptes
van God ondersoek:
"Maar God het dit aan ons deur sy Gees
geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God." [1Kor2:10].
God het die mens na Sy Beeld geskape, m.a.w. Hy het die mens nuuskierig,
avontuurlustig, skeppend, vindingryk, kunstig en leergierig geskape.
Die mens sal altyd altyd na nuwe horisonne streef, meer wil ontdek, meer
wil sien en leer. Dit is een rede waarom
ons Heelal so groot is … juis omdat die mens geskape is (o.a.) ook vir
ONTDEKKING. Indien selfs die Heilige Gees dit dan die moeite werd ag om die
dieptes van God te ondersoek, wat laat ons dink dat ons in die Hiernamaals ooit
alles dadelik (sonder ondersoek) van
God af gaan weet?
Sodra die gelowige hom dus eendag in die Ewigheid in die Vader se Huis van baie wonings (waarskynlik die PARADYS) tuisgemaak het en al sy bekendes en geliefdes klaar gegroet
het, gaan Jesus hom waarskynlik aan die hand kom vat en vir hom sê: “Kom saam en Ek gaan wys jou nog ‘n
uitnemender weg!” Wie weet waar Hy die gelowige dan heen gaan neem, en wat
Hy hom dan gaan wys? Nog ‘n HEMEL?
In God se Ewigheid gaan die beginsel van die
Uitnemender Weg gereeld nuwe
horisonne aan gelowiges lewer om te ontdek en te geniet, anders sou die gevaar bestaan waar gelowiges hulleseself sou kon begin verveel. God is in Sy Persona (waarna Bybelstudente met ontsag verwys as 'Mysterium et Fascinans') heeltemal te skeppend, innoverend en interessant (en oneindig so) dat enigiemand homself ooit in Sy Huis van Vele Wonings gaan verveel.
So, waar staan ons tot dusver, met net DRIE HEMELE? Nee wat, God is nie soos ‘n volstruis wat net
tot DRIE kan tel nie. Toegegee is daar metafisiese aspekte omtrent God en die
HEMELE wat ons nie verstaan en waarvan
ons nie weet nie, maar ek kan my nie indink in ‘n klein God nie. Die feit is dat selfs die HOOGSTE HEMEL God
nie kan bevat nie, soos die Bybel ons leer … punt. Die DERDE HEMEL (PARADYS) is waarskynlik die
setel van God se regering waar God en losgekoopte mens ontmoet en saam gaan
woon, en waar die mens Hom gaan dien en aanbid.
Wetenskaplik-metafisies gesproke moet ons egter altyd onthou dat, selfs
al sou al die HEMELE en die hele KOSMOS in God se skepping tragies op ‘n dag
alles sonder een enkele uitsondering totaal in duie stort (‘implode’) en
daarvan net mooi niks oorbly nie, God nog steeds in al Sy GLORIE en
MAJESTEIT soos ‘n Hemelse Son, Ewige Hemelse Vader en Bruidegom uit Sy
besondere en unieke woonplek kon verrys om die traan van die wenende weeskind
en die getraumatiseerde gelowige se wang af te droog.
Dit is ook wat die HEMELE (en veral die DERDE HEMEL waar die PARADYS is)
so besondere plek gaan maak, want die skoonheid en interessantheid van dit sal
net nooit ophou nie. God sal die
gelowige vir EWIG (‘infinity’) moet besig hou en stimuleer met dinge en idees
(o.a. ook met Hemelse aanbidding, lofprysing en musiek) waarvan die
moontlikhede en opsies net nooit gaan opdroog nie. ‘Verveeldheid’ gaan nie bestaan nie. Dit is wat die Hemel ‘HEMEL’ gaan maak, en om
alles te kroon gaan JESUS ook nog daar wees.
Erkenning
1. Die Bybel (AOV).
2. McCullough, Dr. Donald W. ’The Trivilization of God: The Dangerous Illusion of a Manageable Deity’.
✋