Total Pageviews

Thursday 8 July 2021

Hoeveel Hemele? (AFRIKAANS)

1. Proposisie #1: Ons Weet Dat Daar Minstens Drie Hemele Is.  Dikwels hoor mens mense sê dat daar (net) DRIE HEMELE is, en dat God in die hoogste daarvan, naamlik die DERDE HEMEL, woon.  Sulke mense baseer hulle stelling gewoonlik op die getuienis van Paulus, soos volg:

   "Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede— of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.  En ek weet van so ‘n man — of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit — dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie." [2Kor.12:2-4].

  

   Die miljoen-roebel vraag is nou: Waar staan dit in hierdie teks dat God in die DERDE HEMEL woon?  Kom mense nie maar net weer oudergewoonte tot allerhande onskriftuurlike gevolgtrekkings nie?  Die enigste ding wat ons tot dusver met sekerheid kan sê is dat die PARADYS in die DERDE HEMEL geleë is [2 Kor.12:4].  

   Vanselfsprekend sal God o.a. ook in die PARADYS aktief wees aangesien Hy oor alle Hemele, ongeag hoeveel daar van hulle is, regeer; maar is dit noodwendig so dat Hy in Sy Persoon beperk is tot die DERDE HEMEL of tot die PARADYS?

   Ons weet ook wel dat die eerste Christen-martelaar, Stefanus, Jesus sien staan het aan die ‘regterhand van God’ ten tye van sy moord, wat daarop dui dat God waarskynlik Sy Troon in die DERDE HEMEL vestig: 


   "Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.  En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan." [Handelinge7:55-56]. 


 2. Proposisie #2: God het die Hemele Sowel as die Hoogste Hemele Gemaak. 

 

   Die Bybel leer dat God die Hemele (meervoud!) en die Hoogste Hemel gemaak het:

 

   "U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer ... In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande." [Nehemia9:6; Psalm102:25/26].

 

   Met ander woorde, lank voordat die Hemele (meervoud) geskape is of bestaan het, het (die oneindige) God mos alreeds bestaan, want hier stel die Bybel dit duidelik dat God die Hoogste Hemel gemaak het.  Indien die DERDE HEMEL dus wel die Hoogste Hemel is (wat nie noodwendig Bybels is nie) het God dit in elk geval in die eerste plek self gemaak. 

   Dikwels vergeet mense dat God self nooit geskape was nie … Hy IS net eenvoudig van Ewigheid tot Ewigheid. Sy ‘ouderdom’ kan nie met ‘n horlosie bepaal word of aan ‘n kalender gemeet word nie.  Hy IS die groot ‘EK IS’.  Toe Moses by die braambos vir God vra wie Hy nou eintlik is, het God geantwoord: 

   

   "En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur." [Exodus3:14]. 

 

   Die Bybelse God (‘YHWH’) staan onafhanlik van en buite die Gregoriaanse kalender wat ons soms agter ons kombuisdeur hang, of in ons dagboek en/of selfoon ‘app’ ronddra.  Die HEMELE, aan die ander kant, was geskape, tydgebonde en kalendergebonde dinge; daarteenoor ‘was’ God nooit geskape nie … Hy IS, gister, vandag en tot alle ewigheid dieselfde.  

   Maar, as God dan nie geskape was nie, en die HEMELE (insluitend die DERDE HEMEL waarna Paulus verwys) geskape dinge is, waar het God dan gewoon voordat die DERDE HEMEL gemaak is (dit wil sê indien die DERDE HEMEL dan nou werklik die hoogste hemel is)?

  Kan u dus sien dat indien die DERDE HEMEL bv. (arguments-onthalwe) werklik die HOOGSTE HEMEL is (alhoewel dit nie ‘n uitgemaakte saak is nie) en God die DERDE HEMEL in die een of ander ‘begin-stadium’ geskep het, God dan vanselfsprekend nie (op daardie stadium) noodwendig in die DERDE HEMEL kon gewoon het nie?  God 'bestaan' onafhanklik van Sy skepping en dus voordat die DERDE HEMEL bestaan het.


3. Proposisie #3: Die HEMELE kan verslyt (vergaan).  Dit is met ander woorde belangrik dat ons besef dat God nie noodwendig RUIMTE of SPASIE (soos ons dit ken), of selfs ‘n HEELAL of HEMELE, nodig het om in te woon of om Sy oorlewing mee te verseker soos wat die valse kultus van die primitiewe ‘panteïsme’ bv. leer nie. 

   Al sou daar dus gladnie soiets soos ‘n HEELAL, ‘n KOSMOS of HEMELE bestaan het nie, sou God nog steeds met mag en majesteit kon verklaar: “Ek IS!” Die HEELAL, die KOSMOS en die HEMELE is geskape dinge, terwyl God nooit geskape was nie; Hy IS wat Hy IS … punt. Die Bybel leer ook dat die HEMELE, inteendeel, nie EWIG is nie, maar dat dit alles kan verslyt en inderdaad op hierdie oomblik besig is om te verderwe:

 

   "In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.  Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn.  Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie ... Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand." [Psalm102:25/26 - 27/28; 2Petrus3:10]. 

 

 

   Wat leer ons uit hierdie gedeelte?


Dat die HEMELE (let wel die meervoud!) die werk van God se hande is (m.a.w. God ‘het bestaan’ voordat die HEMELE bestaan het).


Dat die HEMELE sal vergaan, almal van hulle sal soos ‘n kleed verslyt. HEMELE kom en gaan.


Die HEMELE sal met ‘n gedruis verbygaan.


Daar bestaan minstens DRIE HEMELE.


- Die DERDE HEMEL is waarskynlik waar die PARADYS asook waar God se TROON is.

- God bly dieselfde … Sy jare het geen einde nie. Hy sit EWIG buite die ruimte-tyd dimensie wat ons die HEELAL noem. Selfs al sou daar nie soiets soos ‘n HEELAL, ‘n KOSMOS of HEMELE bestaan het nie, sou God nog nog steeds bestaan het.

 

   Wanneer ons dus leer dat daar net DRIE HEMELE is en dat die DERDE HEMEL die HOOGSTE HEMEL is (en dat God beperk is tot die DERDE HEMEL) weerspreek ons die Bybel, aangesien daar geen bewyse bestaan dat die DERDE HEMEL noodwendig die HOOGSTE HEMEL in God se skepping is nie.  Al wat ons weet is dat dit die plek is waar die PARADYS, asook God se Troon, geleë is en dat Paulus weggeruk is tot in die DERDE HEMEL en onuitspreeklike wonders daar gesien het.

   Diegene bekend met die Nuwe Testamentiese Evangelies sal onthou dat daar ‘n tyd was toe Jesus vir die Fariseërs gesê het: “Voordat Abraham was, IS EK!”  Hierdie stelling bewys terloops ook onomwonde dat Jesus werklik GOD (die Seun) is, aangesien Hy hier op dieselfde supernatuurlike eienskap van ‘EK IS’ as wat die God van Moses (‘YHWH’) aanspraak gemaak het, aanspraak maak:

 

   "Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek." [Johannes8:58].

 

   N.B. Vir alle praktiese doeleindes kon Jesus netsowel ook nog gesê het: “Voordat die HEMELE was, IS EK!”


4. Proposisie #4: Die HOOGSTE HEMELE kan God nie bevat nie. In verband met God se verhewe en finale ‘woonplek’ leer die Bybel duidelik dat selfs die HOOGSTE HEMELE God nie kan bevat nie, of daardie ‘hoogste hemel’ nou die DERDE HEMEL of die MILJOENSTE HEMEL is of nie.  Tensy God Homself assulks opsetlik kleiner in die publiek manifesteer soos dit dikwels in die Ou Testament gebeur het, wat ons ‘n ‘teofanie’ (‘Theophany’) noem, kan God tegnies-gesproke eintlik in GEEN HEMEL ingeforseer word nie; maak nie saak hoe groot enige HEMEL is nie ... God bly groter. Satiries gesproke: Soos die seuntjie vir sy boetie gewaarsku het: "Jy dink God is groot? God is groter!"

 

"Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het ... Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek? Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!" [1Konings8:27; 2Kronieke2:6; 6:18].



5. Proposisie #5: Niemand Weet Hoeveel HEMELE Daar Is Nie. Die feite is dus soos volg:

- Daar bestaan geen Skriftuurlike bewys dat daar net DRIE HEMELE in God se skepping bestaan nie. Paulus (trouens, ons vermoed dit was hy) was wel weggeruk tot in die DERDE HEMEL (PARADYS) en het wel onuitspreeklike dinge gesien waarvoor hy nie oor die woordeskat of mandaat beskik het om te dit hoegenaamd aan ons te verduidelik nie, maar dit is nie ‘n uitgemaakte saak dat dit noodwendig die HOOGSTE MOONTLIKE HEMEL is of selfs dat dit GOD se FINALE WOONPLEK is nie.

- God het die HEMELE (meervoud) gemaak, insluitend die DERDE HEMEL (PARADYS) en enige ander HEMELE waarvan ons moontlik nie weet nie. God se TROON (die setel van Sy regerende gesag) is waarskynlik in die DERDE HEMEL gevestig.

- God is nie geskape nie, maar IS: Hy bestaan buite TYD en die KALENDER. Hy is die groot ‘EK IS!’ en bestaan onafhanklik van en buite die TYD-RUIMTE dimensie wat ons as die Heelal ken.

- Die geskape HEMELE is tyd- en ruimte gebonde en kan verslyt en ‘verbygaan’, maar God se TROON (figuurlik: Sy regerende Gesag) is EWIG.

- God BESTAAN dus voordat die HEMELE bestaan het.

- Arguments-onthalwe kan selfs die HOOGSTE HEMEL God se ‘Persoon’ nie bevat nie, of dit nou die DERDE HEMEL of die BILJOENSTE HEMEL is aldan nie, tensy d.m.v. ‘n ‘teofanie’ (‘Theophany’) m.a.w. wanneer God opsetlik kleiner manifesteer sodat Hy pas in kleiner ‘ruimtes’ soos die DERDE HEMEL of selfs binne in die hart van die gelowige.

- In die finale analise weet niemand hoeveel HEMELE daar werklik is nie, en die Bybel spesifiseer ook gladnie hoeveel HEMELE daar werklik bestaan nie, maar net dat daar minstens DRIE HEMELE bestaan en dat die HOOGSTE HEMEL (watter een dit ookal mag wees) God nie kan bevat nie. Selfs ongelowige (en gelowige) natuurwetenskaplikes ('kwantum fisici') begin al spekuleer oor die moontlike bestaan van 'veelvuldige heelalle' ('multiverses'). 

- Enigeen wat dus probeer bereken hoeveel HEMELE daar (m.a.w. om 'n spefieke getal daaraan te koppel) in God se skepping is en ander so will leer is waarskynlik besig om sulkes te mislei.

6. Proposisie #6: God bestaan dus onafhanklik van Sy Skepping.  Ons sien dus dat selfs die HOOGSTE HEMELE God nie kan bevat nie en dat Hy IS (d.i. BESTAAN) lank voordat die HEMELE ooit geskape is. Die groot gevaar onder Christene is die gewoonte wat hulle het om God gedurig te wil ‘trivialiseer’ (verklein) met die doel om Hom meer 'hanteerbaar' (verstaanbaar) vir hulle eie beperkte verstandjies te maak.  
   ‘n Goeie voorbeeld van die trivialisering (‘verkleining’) van ‘n ‘god’ is wanneer die Oosterse afgode-dienaar sy ‘god’ ('n mensgemaakte beeldjie) op die rakkie neersit om hom te aanbid.  Sy ‘god’ is so ‘verbruikers-hanteerbaar’ (‘user-manageable’) dat hy (d.w.s. die 'godjie' op die rakkie) nie eers homself kan afstof nie, wat nog ander help! 

   Ons vind sulke kinderagtige en futiele aanbidding van ‘n afgods-beeldjie vreemd en verfoeilik; maar sommige Christene doen soms dieselfde: Wanneer hulle God nie verstaan nie, probeer hulle Hom meer verstaanbaar en hanteerbaar maak deur Hom tot ‘n DERDE HEMEL te probeer beperk, terwyl die ewige en oneindige God nooit in so beperkte ruimtetjie ingedruk sal kan word nie.  Nee, die Bybelse feit en leer is dat selfs die HOOGSTE HEMELE God nie kan bevat nie! Ten beste kan ons weet dat God wel Sy administratiewe hoofkantoor en setel van Sy Troon onder die res van Sy skepping en geskape wesens waarskynlik (maar nie noodwendig) in die DERDE HEMEL waar die PARADYS is, maak. 

   Toevallig waarsku Dr. Donald W. McCullough, skrywer van die boek, ’The Trivilization of God: The Dangerous Illusion of a Manageable Deity’, juis teen die moderne gewoonte by Christene en filosowe om God gedurig te wil trivialiseer in hulle soektog na ‘n intellektueel ‘meer ‘beheerbare' (‘more manageable’) God.  Omdat Christene nie die misterie van ‘n oneindige (‘infinite’) God kan visualiseer of intellektueel begryp nie, probeer hulle dan dikwels om God ‘meer verstaanbaar’ te maak deur Hom tot kleiner, intellektueel meer hanteerbare hokkies (soos ‘n DERDE HEMEL) te beperk.

   Maar, selfs al sou God se Troon in die DERDE HEMEL (PARADYS) wees (wat heeltemal Skriftuurlik is) is dit steeds nie ‘n uitgemaakte saak dat die plek van Sy Ewige Troon noodwendig die HOOGSTE HEMEL van Sy Skepping is nie.  Die Bybel leer ons:

 

   "Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders ... U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer ... God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon ... So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?" [Psalm11:4; 45:6/7; 47:8/9; Jesaja66:1].

 

   Ons kan wel weet dat die Troon van God uniek en EWIG van aard is, aangesien die woord troon nie noodwendig na die fisiese koninklike ‘stoel’ verwys waarop God sit nie, maar metafóries na God se Statuur en Koninklike Gesag (om te regeer). God regeer van ewigheid tot ewigheid en is Sy Koninklike Gesag (‘Troon’) is dus ook ewig.  Ten beste kan ons verder weet dat, in terme van Jesaja 66:1 hierbo, die hemel die troon van God is en die aarde die voetbank van Sy voete.  Hy het dit spesifiek genoem sodat ons mensekinders kan weet dat, indien die hemel slegs Sy Troon verteenwoordig, daar baie meer omtrent God is as wat hierdie enorme en majestueuse Heelal laat blyk (ons ken ten dele).  

   

7. Proposisie #7. Die werklike Grootheid van God was nog nooit vertel nie. Nietemin staan trone mos vanselfsprekend nie alleen daar in die veld rond nie: 


- ‘n Troon is tog binne-in ‘n Paleis; 

- Paleise is binne in ‘n Land; 

- Lande is binne in ‘n Koninkryk en 

- koninkryke is gewoonlik binne-in ‘n groter, ruimer Kontinent.  


   Stel uself voor: Indien God se Troon dus in die DERDE HEMEL sou wees, hoe (metafories-gesproke) sou die PALEIS waarin so Troon staan daar uitsien; en die LAND waarin so ‘n Paleis staan, en die KONINKRYK waarin so Land is, en die KONTINENT waarin so ‘n LAND ditself sou bevind?  Al ooit gehoor van ‘thinking out of the box’? Nietemin, enige mens wat hierdie brein-toertjie sou probeer doen sou homself waarskynlik binne minute uitdoof van uitputting.

   Sommige wetenskaplikes, soos bv. (oorlede) Stephen Hawking dat daar. wiskundig demonstreerbaar. minstens ELF HEELALLE bestaan.  Selfs hier kan ons sien dat die hele idee van baie heelalle (en baie HEMELE) selfs vanuit ‘n gewone wetenskaplike oogpunt nie noodwendig ‘n vergesogte idee is nie.  Nie alles wat die ateïs-gesinde wetenskaplikes ons vertel is ook noodwendig altyd verkeerd of ongeldig nie … selfs ‘n horlosie wat staan is ten minste tweekeer per dag absoluut korrek (en op daardie twee oomblikke waarskynlik meer korrek en presies as ‘n atoom-horlosie). 

   God is immers ONEINDIG (‘infinite’) en mens sou kon verwag dat God nie in ‘n metafisiese ruimtetjie beperk tot ‘drie hemele’ sou wil woon nie.  Trouens, net die feit dat God ONEINDIG is beteken alreeds dat daar moontlik ‘n ONEINDIGE AANTAL HEMELE bestaan waarvan ons die einde nooit van ons vlak af sal kan begryp of verstaan nie ... of kan die God wat wiskunde gepatenteer het soos 'n volstruis net tot 3 tel?

   Daarbenewens moet ons ook probeer begryp dat God nie binne-in Sy Skepping (lees HEMELE) vasgevang is soos ‘n huurder van sy eie woonstel in ‘n woonstelblok nie, asof Hy maar net die Opsigter van die Heelal is nie.  God is nie maar net die Opsigter van die Heelal nie; Hy het nie die HEMELE nodig vir die versekering van Sy eie ruimtelike voortbestaan nie; trouens het die HEMELE God nodig vir hul ruimtelike voortbestaan, presies net andersom!  Mense (geskape wesens) neem bv. ruimte (‘spasie’) op; maar God kan, indien Hy dit so sou verkies, Homself terugtrek tot die grootte van ‘n atoom, of selfs kleiner waar Hy geen ruimte (soos ons dit ken) opneem nie.  

   Argumentshalwe sou Hy Homself dus kon terugtrek tot by ‘n (metafisiese, minuskule) wiskundige punt waar Hy bv. absoluut geen spasie opneem nie, en steeds ewe suksesvol (indien nie ‘meer’ suksesvol!) die Heelal met mag, gesag en invloed kon regeer.  Aan die anderkant kon God Homself, indien Hy sou wil, eerder vergroot waar Hy triljoene ligjare in deursnee is, en steeds (paradoksaal vir sekere mense) geen ruimte opneem nie.  God het nie SPASIE, RUIMTE, die KOSMOS, die Heelal of die HEMELE (soos ons dit verstaan) nodig nie … dit is die Heelal, die Kosmos en die HEMELE wat Hom nodig het, en voordat ons dit nie verstaan nie, sal ons nie eers begin om God se Majesteit, Grootsheid en wonderlike Woonplek te verstaan nie.  

   Dit is waarom God, selfs al kon Hy tegnies-gesproke nie deur die HOOGSTE HEMELE bevat word nie, Homself steeds met Sy unieke ‘metafisiese’ eienskappe in die DERDE HEMEL kan vestig vanwaar Hy met gesag regeer indien Hy dit so sou verkies.


8. Proposie #8: Daar is 'n Nog Uitnemender Weg.  God is ONEINDIG (‘Infinite’), en lank nadat die verwagte Wederkoms plaasgevind het; of lank nadat die Bruilof van die Lam plaasgevind het, en lank nadat die Groot Wit Troon Oordeel plaasgevind het, en lank nadat die gelowiges reeds ‘lankal’ by God is, sal sulke gelowiges waarskynlik nog steeds gereeld nuwe dinge omtrent God ontdek. Die Bybel leer ons dat selfs die Heilige Gees nog steeds gereeld die misterieuse dieptes van God ondersoek:

 

   "Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God."  [1Kor2:10].  

 

   God het die mens na Sy Beeld geskape, m.a.w. Hy het die mens nuuskierig, avontuurlustig, skeppend, vindingryk, kunstig en leergierig geskape.  Die mens sal altyd altyd na nuwe horisonne streef, meer wil ontdek, meer wil sien en leer.  Dit is een rede waarom ons Heelal so groot is … juis omdat die mens geskape is (o.a.) ook vir ONTDEKKING. Indien selfs die Heilige Gees dit dan die moeite werd ag om die dieptes van God te ondersoek, wat laat ons dink dat ons in die Hiernamaals ooit alles dadelik (sonder ondersoek) van God af gaan weet? 

   Sodra die gelowige hom dus eendag in die Ewigheid in die Vader se Huis van baie wonings (waarskynlik die PARADYS) tuisgemaak het en al sy bekendes en geliefdes klaar gegroet het, gaan Jesus hom waarskynlik aan die hand kom vat en vir hom sê: “Kom saam en Ek gaan wys jou nog ‘n uitnemender weg!” Wie weet waar Hy die gelowige dan heen gaan neem, en wat Hy hom dan gaan wys? Nog ‘n HEMEL? 

   In God se Ewigheid gaan die beginsel van die Uitnemender Weg gereeld nuwe horisonne aan gelowiges lewer om te ontdek en te geniet, anders sou die gevaar bestaan waar gelowiges hulleseself sou kon begin verveel. God is in Sy Persona (waarna Bybelstudente met ontsag verwys as 'Mysterium et Fascinans') heeltemal te skeppend, innoverend en interessant (en oneindig so) dat enigiemand homself ooit in Sy Huis van Vele Wonings gaan verveel.  

   So, waar staan ons tot dusver, met net DRIE HEMELE?  Nee wat, God is nie soos ‘n volstruis wat net tot DRIE kan tel nie. Toegegee is daar metafisiese aspekte omtrent God en die HEMELE  wat ons nie verstaan en waarvan ons nie weet nie, maar ek kan my nie indink in ‘n klein God nie.  Die feit is dat selfs die HOOGSTE HEMEL God nie kan bevat nie, soos die Bybel ons leer … punt.  Die DERDE HEMEL (PARADYS) is waarskynlik die setel van God se regering waar God en losgekoopte mens ontmoet en saam gaan woon, en waar die mens Hom gaan dien en aanbid.

   Wetenskaplik-metafisies gesproke moet ons egter altyd onthou dat, selfs al sou al die HEMELE en die hele KOSMOS in God se skepping tragies op ‘n dag alles sonder een enkele uitsondering totaal in duie stort (‘implode’) en daarvan net mooi niks oorbly nie, God nog steeds in al Sy GLORIE en MAJESTEIT soos ‘n Hemelse Son, Ewige Hemelse Vader en Bruidegom uit Sy besondere en unieke woonplek kon verrys om die traan van die wenende weeskind en die getraumatiseerde gelowige se wang af te droog.

   Dit is ook wat die HEMELE (en veral die DERDE HEMEL waar die PARADYS is) so besondere plek gaan maak, want die skoonheid en interessantheid van dit sal net nooit ophou nie.  God sal die gelowige vir EWIG (‘infinity’) moet besig hou en stimuleer met dinge en idees (o.a. ook met Hemelse aanbidding, lofprysing en musiek) waarvan die moontlikhede en opsies net nooit gaan opdroog nie.  ‘Verveeldheid’ gaan nie bestaan nie.  Dit is wat die Hemel ‘HEMEL’ gaan maak, en om alles te kroon gaan JESUS ook nog daar wees.


Erkenning

1. Die Bybel (AOV).

2. McCullough, Dr. Donald W. ’The Trivilization of God: The Dangerous Illusion of a Manageable Deity’. 


 

No comments: